September 2, 2001
Hallo Almal,
Sjoe, die tyd vlieg
eintlik vinnig verby. Ons is nou
Septembermaand en die skool is nou 2 weke aan die gang. Ek moet sê, ons het sommer vinnig in die
roetine gekom na die lekker laaaannggg vakansie! Wel, ek moet bysê; die somervakansie was BAIE
lekker. Ek het tyd saam met die seuns
deurgebring en dit baie geniet. 
Nou wil ek ook sê dat
julle my Afrikaans moet verskoon. Ek kom
agter dat ek baie na Afrikaanse woorde begin soek, en soms klink my sinne asof
ek dit direk oorvertaal het van Engels af.
Dis nou deel van ons bly hier in Amerika… ek dink al in Engels…en die
ergtste vir my was toe ek in Engels begin droom het… zzzzz!
Nou eers bietjie nuus
oor my wat nie werk nie…. Na baie
nadenke en wonder en gesels het ek en Neels besluit dat ek by die huis gaan bly
vir ‘n jaar. Aangesien ons ‘n baie
gejaagde lewe het hier in Amerika, is dit baie prakties as ek by die huis kan
wees. My grootste bekommernis is ook die
kinders se opvoeding. Hulle kry regtig
baie huiswerk by die skool en ek moet tyd saam met hulle deurbring om die
huiswerk te doen. Ons weke is baie
besig; die kinders gaan skool van 8:15 am tot 1:30pm. Hulle ry met die bus skool toe en in die
oggende vertrek hulle 7:45 am en ek kry hulle weer by die busstop om 1:50
pm. As die kinders dan by die huis kom
is hulle HONGER… nadat ek vir hulle ‘n
eetdingetjie gegee het, is dit huiswerk tyd.

Nou eers weer bietjie
terug in die verlede in…. Ons het toe ons 750 stuk legkaart gebou. Dit was so ‘n oulike legkaart. Die kinders het dit baie geniet……natuurlik ek
ook! Hier is die kinders by die
voltooide legkaart. Die legkaart is in
die vorm van Amerika. Gelukkig het ons
dit voltooi voor die skool begin het!
Nou eers bietjie nuus
oor ons vakansie in Palm Springs. Dit
was die week van 28 Julie tot 4 Augustus.
Palm Springs is ook in California, dit is so 8 ure se ry suid van ons
huis in Roseville. Kyk, daar is dit BAIE
WARM! Ons vakansie-oord was ‘n oase in
die middel van die woestyn. Dit was ‘n
pragtige plek. Die oord se naam is
“Dessert Welk Oasis Resort”. Ons het ‘n
2 slaapkamer woonstel gehad met baie goeie
geriewe. Die oord het ook ‘n swembad en ons het baie
geswem. Hier is ‘n foto van die swembad
en soos julle kan sien is daar baie palm bome.
Dit is seker waar die naam Palm Springs vandaan kom! Dit was nou ‘n week van lekker rus, ontspan
en ons het ons soos toeriste gedra!
Ons het kaartjies
gekoop om na Universal Studio’s te gaan in Los Angeles. Die Dinsdag-oggend is ons al 5 uur uit die
bed, reggemaak en toe ry ons na Universal Studio’s. Dit was so 2 ure se ry van die oord af. Ons het dit baie geniet. Daar is so baie goed om te sien en so min
tyd! Ons het heel eerste op ‘n “Studio
Tour” gegaan waar hulle ons gewys het waar baie flieks gemaak is en waar hulle
nog steeds flieks maak! Dit was
ongelooflik. Vir julle wat “Back to the
Future” gesien het, sal onthou van die horlosie op die plein waar die weerlig
geslaan het en die kar weer teruggestuur het in die verlede. Ek kan nie glo dat hulle die fliek daar
gemaak het nie! Die plek lyk so klein en
ek het weereens besef wat hulle alles kan doen met kamera tricks.

Links is die ingang van Universal Studio’s. Neels het my en die kinders se agterkante
afgeneem……ag wat, agterkant is seker beter as geen kant nie! Bo is die horlosie van die film “Back to the
Future”. Verder was daar baie oulike
goed om te sien. Vir die kinders was daar die Nickelodeon Splash, Rugrats Magic
Adventure en Wild Thornberry’s Adventure Temple. Ons was ook by die “Animal Planet Live”
opvoering gewees. Dit was ‘n wenner,
ongelooflik wat die mense vir ‘n dier kan leer.
Die man op die foto is die persoon wat die program op TV ook
aanbied. Kan nie sy naam onthou
nie! Ek weet ook nie of julle die
“Animal Planet Live” program in Suid-Afrika sien nie? Hmm, ek het so baie
foto’s, maar ongelukkig is
my plek in die brief bietjie beperk, ek sal maar net die mooiste foto’s insit
en meer skryf (askuus…. tikwerk) doen!
Ons het ook die opvoering
“WaterWorld” gaan kyk. Dit is so ‘n mini
opvoering waar akteurs vir ons wys hoe hulle waag toertjies doen op water. Die hele WaterWorld park is gebou van
sinkplate…regtig oorspronklik gedoen.
Daar was jet-ski’s en bote en pistole…sommer baie aksie! Die pamflet se beskrywing is “Forget
water-fighting. This is aquatic
Armageddon!”. Nou ja, hiermee sal ek
moet saamstem.

Ons het ook na die “Wild
Wild West” opvoering gaan kyk. Soos die
naam sê, is dit ‘n opvoering oor die wilde weste. Universal Studio’s is nogal ‘n groot plek en
ons het 2 dae gehad om alles te bekyk.
Daar was ‘n paar wilde “rides” ook gewees, soos “Jurrassic Park Summer
Splash”. Neels het daarvoor kans gesien,
en hy het lekker nat geword! Dit is ‘n
water “ride” en die rit eindig met ‘n 84 voet “vertical drop”…nou ja, dit sê
alles vir my, dus het ek maar uitgesit op die ene. Hier is Neels, lekker nat en hande in die
lug! Ek wonder of hy weer sou gaan…..??!
Met die besoek aan Universal Studio’s het ons die kinders ook afgeneem op die maan met die akteurs van Apollo 13.
Ek wonder of die fliek “Shrek” nou al uitgekom het in Suid-Afrika? Ons het die fliek gesien toe Ouma en Oupa Pottas hier gekuier het. Ons het lekker gelag en die kinders het dit baie geniet. Dit is sommer net ‘n ligte kinderfliek, maar beslis ‘n goeie fliek om te sien. Op die linkerkantste foto is die seuns in die tronk by die prins en prinses van die fliek. Die foto regs is ons middag ete… J


Goed, nou eers klaar
gesels oor Universal Studio’s! My brief is
so bietjie deurmekaar, maar ek gaan nou eers verder vertel van al die
besienswaardighede in Palm Springs. Een
van die groot besienswaardighede is die bekende “Wind farms”. Die web site is: http://www.windmilltours.com/. Die foto wat ek het is so bietjie dof, maar
in die agtergrond is die windmeule wat gebruik word om krag op te wek. Volgens die brosjure wat ek gelees het, is
die torings 120 voet lank en die lemme is 90 voet lank. Die windmeule kan tot 200 mph draai en
hierdie reuse genereer 1.0 megawatts elektrisiteit elk, wat genoeg is vir ‘n
1000 huise. Daar is 3800 windmeule, dus
is dit sommer baie elektrisiteit. ‘n
Goeie ding in hierdie elektrisiteits krisis in California! Ongelukkig kon ons nie op die toer gaan nie,
want dit is te warm in die somer maande.
Het ek gesê dat die hele tyd wat ons in Palm Spring was dit 40 + grade
Celuis was ?..…ons het gesweet!
Aangesien ons ‘n hele week op vakansie was het ons ook ‘n
draai gemaak by die “PALM SPRINGS AERIAL TRAMWAY”. (So terloops, vir julle ouens met Internet
konneksie, hier is die web site van Palm Springs http://palmsprings.com/). O ja, terug na die kabelkarretjie…. Ek het sommer verlang na Suid-Afrika. Die kabelkarretjie is ook ‘n ronde ene soos
in Kaapstad, maar die ene is net bruin en nie blou nie. Die kabelkarretjie kan 80 mense vervoer teen
die berg op. Ek kon nie baie inligting
kry oor die kabelkarretjie nie. Wat ek
wel weet, dit is hoog. Die karretjie
draai ook in die rondte soos die ene in Kaapstad. Wiekus was nie baie lief vir die draai
in die rondte nie! Die uitsig van bo af was baie mooi. Dit is natuurlik ook koeler boop die
berg.
Wiekus het vir ons ‘n foto geneem met die digitale video kamera. Die foto het nie te sleg uitgekom nie! Soos julle kan sien is ons sommer baie naby aan die wolke!
Ons laaste toeriste
attraksie was ons besoek aan die Palm Springs
Air Museum. Ja, wie kon nou dink dat
ons daar ‘n draai sou maak…met hierdie vliegtuig mal manne in die huis. Ek het gladnie ‘n sê gehad nie, maar ek kan
nie kla nie, dit was baie interessant gewees.
Die museum restoreer al die Amerikaanse bomwerpers ens. Vir die vliegtuig liefhebbers (nê Neels..!)
is daar ‘n offisiele web site http://Air-Museum.org. Vir julle ouens wat “Pearl Harbor” fliek
gesien het, hulle het van die vliegtuie gebruik wat in die museum was. Ongelooflik hoe hulle die vliegtuie laat oud
lyk. Hier is ‘n foto van ene. Soos julle kan sien is die voorkant oud gemaak en die agterkant is blink…oulik
nê. Oops, plek is op.. Liefde Karina