Hallo Almal,
Vandag is nou ‘n lekker
reënerige dag hier by ons. Dit is
Sondagmiddag, en ek wil nog ‘n briefie skryf voor Kersfees. My vorige brief het net tot Halloween
gegaan wat in Oktober was. Nou moet ek
eers verder vertel van November en Desember se doen en late.
In November was die groot Thanksgiving vakansiedae. Dit is die een keer in ‘n jaar wat ek ‘n
GROOT kalkoen gaarmaak. Ek het vergeet
om die kalkoen af te neem. Die skool
maak ook ‘n groot storie daarvan, want dit gaan oor die pelgrims en indiane
ens. Daar is ‘n hele geskiedenis agter
Thanksgiving, maar ek gaan nie vandag daaroor vertel nie. Vir skool moes Wiekus en Christo Thanksgiving
hemde maak. Hulle maak dit van
kruidenierswinkels se inkopiesakke. Dit
is bruin papiersakke wat mens moet sny in die vorm van ‘n hemp. Ek moes Wiekus s’n maak en uitsny en hy moes
dit versier het. Hier is hy baie besig
om dit te doen op die kombuis vloer. Ek
het vergeet om ‘n foto te neem van hoe dit gelyk het toe dit klaar was….

Hier is nog ‘n foto van Wiekus wat huiswerk doen in die aand, en
Christo wat op die rekenaar werk….my rekenaar natuurlik.
Ons is nog baie besig om te lees lees lees en nogmaals te
lees. Huiswerk elke dag is om vir 15
minute te lees. Vandat ek by die huis
is, is daar meer tyd om dit te doen, en ek het die kinders goed lusgemaak vir
lees. Hierdie foto was vir my te
oulik. Ek en Neels het TV gekyk en toe
kom Wiekus en gaan sit op Neels se skoot.
Daar het hy rustig gesit en ‘n storieboek deurgelees.

Hier is nog ‘n foto van die leesproses. Wiekus glo in die aande as hy gaan slaap, dan
moet hy nog so ‘n paar bladsye van lees inkry.
Christo het dit nie gemaak nie.
Hy het halfpad aan die slaap geraak met sy boek nog in sy hande!
Vandat dit winter is maak ons ook elke week BILTONG….YUMMIES! Neels is die meester in biltong maak en hier
het Wiekus baie mooi gevra of hy ook mag help.
Ek dink hy het van die idée gehou om met die vleis te speel…..ag ek
bedoel te sout! J
Hy is altyd so gewillig om te help.
Met die week vakansie in
November het ek en die kinders baie pret gehad by die huis. Die Maandag het ‘n vriendin van die kerk
gevra of ek haar 2 kinders vir die dag kan oppas. Sy moes gaan werk het en haar man het ‘n belangrike vergadering
gehad wat hy moes bywoon. Die dogter
Kaylin is 7 jaar oud en die seuntjie Nolan is 5 jaar oud. Nadat die kinders gespeel, video’s gekyk het
en verveeld begin raak het, het ons koekies gebak. Hulle het dit
nou baie geniet….ek moet sê die versierde koekies het baie mooi gelyk,
en die kinders het lekker geëet daaraan.


Die Dinsdag was ook ‘n reënerige dag gewees en ek het die kinders
besig gehou met kryt, waspapier en ‘n skerpmaker. Ons het die vetkryt skerpgemaak en die
saagsels op die waspapier gesit. Dit het
hulle ‘n hele ruk besig gehou om verskillende kleure vetkryte skerp te maak. Daarna het ek dit met ‘n warm strykyster
gesmelt. Nadat die papier weer koud
geword het, het die kinders die papiere uitgeknip in vorms en dit opgesit teen
die vensters. Dit het baie mooi
gelyk.
Vrydagaand (30 November), het die kinders hulle belt promosie
gehad vir hulle groen belde in karate.
Die kinders doen nou al 9 maande karate en ons het besluit om hulle vir
nog ‘n jaar in te skryf. Hulle het die
toets geslaag en albei het nou groen belde in karate.

Nou vir ‘n bietjie Kersfeesnuus.
Gister (Saterdag – 1 Desember) het ek en my Suid-Afrikaanse vriendin se
ma kersfees koeke gebak. Linda werk
nagdiens en sy moes slaap die dag. Haar
kinders en ma kom kuier toe hier by my.
Die kinders het natuurlik die hele dag gespeel en gespeel en
gespeel…. Ek en die Tannie het toe die
hele dag koek gebak en gebak en gebak.
Dit was baie lekker gewees, want ek het nou geleer hoe om kersfeeskoek
te bak….en is dit LEKKER! Ons het 4
koeke gebak en dit het 3 ure gevat om gaar te word, maar glo my, dis die moeite
werd. Hier is ‘n foto van die
koeke. Ons het nou al geproe daaraan en
ek kan dit aanbeveel. Ons het natuurlik
lekker gesoek na al die bestandele, want dit is nie Suid-Afrika hierdie
nie! Linda-hulle was by 4 winkels gewees
en ek was by 6 winkels gewees om al die bestandele te kry!
Kersfees is nou
om die draai. Die week van Kersfees (22
Desember tot 29 Desember) gaan ons op vakansie na Oregon toe. Dit is die staat net bo California. Ek sal daarvan vertel as ons terug is…dit is
natuurlik volgende jaar!
Ons wil vir
almal ‘n BAIE GESEëNDE KERSFEES EN ‘N VOORSPOEDIGE
NUWEJAAR TOEWENS.
Liefde Karina & gesin