January 17, 2001
Hallo
almal,
En hier is ons weer terug by ons huis in Amerika. Ons het baie lekker gekuier in
Suid-Afrika. Die tydjie wat ons daar
gehad het was net bietjie kort gewees.
Ons kon ongelukkig nie almal sien nie.
Daar is darem hoop vir ‘n volgende keer!!
Ons vlug het die 4de Januarie om 8:50pm die
aand vertrek in Johannesburg. Dit was
nogal ‘n interesante belewenis gewees.
By die vertreksaal was daar BAIE mense, en ek bedoel BAIE. Ons het maar in die lang tou gaan staan. Op Johannesburg weeg hulle sommer jou tasse
op die trollie en dan kan jy deurgaan om te gaan inboek. Ons het met SAL gevlieg en het redelik lekker
sitplekke gehad. Die vlug was
eindeloos. Die eerste skof was 8 ˝ uur
gewees en toe het ons geland op die Il Da Sol eiland vir brandstof. Dit het net 40 minute geneem en toe is ons
weer op pad. Dit het nog 7 ˝ ure geneem
en ons het die oggend 5 Januarie om 8 uur in New York geland. Ons het vir die dag by ‘n hotel ingeboek en
geslaap..zzzzz. Die volgende vlug was
die aand 8 uur na Minneapolis. As gevolg
van die sneeu en die slegte weer op New York, was die vlug nie betyds nie, en
ons het toe 3 ure later vertrek as beplan.
Natuurlik het ons die oorklimvlug op Minneapolis gemis. Ons het so middernag op die lughawe
aangekom. By die Northwest toonbank het
‘n grondwaardin ons gehelp. Omdat hulle
geweet het die vlug is laat, het hulle klaar vir ons sitplekke op die volgende
vlug geboek. Omdat ons internationaal
gevlieg het, het hulle vir ons ingeboek in die Hilton Hotel op
Minneapolis. By dit het hulle vir ons
koepons gegee vir aandete en ontbyt. Ek
en Neels was altwee beindruk met die diens!
Ons het die 6de Januarie om 9 uur die oggend
vertek na Sacramento. Ons het so 12 uur
die middag geland en was so teen 1:30 by die huis. Ons was beslis moeg gevlieg!
Dit was so lekker om weer Suid-Afrika in die
somer te sien en ons het lekker gekuier, dis nou as ons nie huiswerk gedoen het
nie J. Omdat ons die kinders uit die skool gevat het
vir die vakansie, het die onderwysers vir hulle selfstudie werk en huiswerk
saam gegee. Ons het dus baie ure in
Suid-Afrika spandeer aan huiswerk. ‘n
Viendin van my wat hier bly het gesę dat haar seun net een paragraaf huiswerk
nie gedoen het nie, toe merk hulle hom die hele 6 weke as afwesig. Wel, ek was nogal bekommerd gewees dat ons
dalk nie genoeg selfstudie en huiswerk gedoen het nie. Gelukkig kan ek vandag sę dat altwee seuns
hulle selfstudie / huiswerk met lof geslaag het. En ek slaak ‘n SUG van verligting!!
Ek het een ding opgemerk in Suid-Afrika en dit
is dat daar baie nuwe besighede opgerig is.
Dit was ook so lekker om die plek te sien in die somer. Al die bome en bossies is so mooi groen. Ek het baie gehou van die nuwe Menlyn
Sentrum. Nou kompeteer Suid-Afrika darem
met Amerika se beste “malls”..veral die Canal Walk in die Kaap! Ek was ook verbaas om te sien dat Suid-Afrika
omtrent al die produkte het wat ons hier in Amerika kry..net jammer ons kry nie
al die SA goodies hier in Amerika nie!
Dan sou ek nou so gelukkig gewees het soos ‘n vark in Palestina!!
Gelukkig kan ek sę dat ons nou oor die “jetlag”
is. Dit het ons ‘n hele week geneem om
oor dit te kom. Die kinders is weer
terug in die skool en ons is weer in ons ou roetine. Neels was laas week, hierdie week en ook
volgende week in Palo Alto (dis net suid van San Francisco). Hy werk nou vir Hewlett Packard en die
hoofkantoor is daar. Van volgende week
(29 Jan.) sal hy hier in Roseville werk.
Ek werk nog steeds by Propel (www.propel.com), ek kon die versoeking nie
weerstaan om vir ‘n “dot com” maatskappy te werk nie!
Ons vries lekker hier in Amerika, dit is nou
beslis middel winter hier by ons! Ons
het so twee dae gehad wat 0 grade celcuis was.
Gelukkig het ons interne verhitting by die huis en by die werk, dis net
daar buite waar dit nogal koud raak! {NEELS SE GEDEELTE} Die hele noord
westelike gedeelte van die VSA het ‘n energie-krisis. Die plek het vinniger uitgebrei as wat hulle
kragopwekkers gebou het en nou is die krag op.
Die laaste 3 dae het die ISO(independent system operator) ‘n “stage 3
alert” verklaar. Dit beteken dat die
kragnetwerk oor minder as 1% reserwe krag beskik. Ons het dan ook “rolling black-outs” ervaar
oor die laaste 3 dae. Sodra die krag
opraak, dan skakel hulle blokke krag af vir ‘n uur en dan weer die volgende
blok. Dit beteken dat alles in ‘n
elektiese blok geen krag het nie. Dit
sluit verkeersligte in, maar hospitale en lughawens se krag bly aan, want dit
sal nie ‘n grap wees as die vliegtuie begin val nie. Nogal lekker ghaos en veral die kleiner
rekenaarplekke kry swaar want hulle het nie “back-up” opwekkers nie. Hulle werk nog so lekker dan is al die
rekenaars skielik net af. Dan verloor
hulle sommer baie geld. Mense sit in
hysbakke vas en ry inmekaar vas by straatkruisngs. Die “governor” van California het gister ‘n
noodtoestand afgekondig. Dit stel hom
dan in staat om noodmaatreels vinniger te implementer. Dit gaan nog lank so voortduur, want dis nie
maklik om ‘n kragsentrale te bou nie.
Ek heg so ‘n paar foto’s aan van ons besoek aan
SA!

Ons het leeus gesien….
Ps: Jammer vir die foto’s se kwaliteit, daar is
iets fout met ons drukker….
Ons kuier by Ouma en Oupa Dreyer op
Sannieshof. Al die Dreyer niggies en
nefies bymekaar:
Links na regs: Igna, Bianca, Oupa en Riaan,
Zunne, Tannie Martie en Renata, Wiekus en Christo:

Kersfees by Ouma en Oupa Pottas. Ouma en Oupa Pottas se 3 kleinkinders….
Wiekus, Christo en Chris jr.:

4
januarie 2001, voor ons vertek terug na Amerika:
