May 28, 2001
Hallo Almal,
Ek is so bietjie agter
met die nuus! Wel, hier is ek weer. Vandat e-mail uitgevind is, is dit sommer
baie makliker om te e-mail as om brief te skryf. Vandag is “Memorial Day” hier in Amerika, so
ek en Neels het die dag af. Dit is so
lekker om ‘n 3-dag naweek te hê. Ons
dink hulle moet dit permanent instel!
Baie dinge het gebeur in hierdie afgelope paar
maande. Dit gaan baie goed met ons, en
ons is nog almal aan die gang. Die
kinders se somervakansie is in sig, en ons almal slaak ‘n sug van
verligting. Die kinders het baie hard
gewerk hierdie jaar aan huiswerk en projekte….. en ons het net so hard gewerk
aan huiswerk en projekte. Die somervakansie
begin amptelik die 8ste Junie. Dit is ‘n
groot dag vir ons, want dan kom my ouers kuier.
Ons en die kinders sien baie uit daarna en gaan hulle op die lughawe
haal.
Met die somer vakansie wat in sig is,
het ons ook die kinders ingeskryf op die
naskool program as my ouers weer terug is in Suid-Afrika. Die kinders is in die S.T.A.R. program
(Science, Theater, Art and Recreation).
Dit is ‘n baie goeie program, en altwee seuns was laas jaar ook daar
gewees vir die somervakansie. Die koste
is $28 per dag per kind. Baie duur, maar
baie goeie program…en eintlik is dit een van die goedkoopste programme hier
rond om in deel te neem! Vandat ons in
California is, kom ons agter hoe duur alles is!
Hier betaal hulle al $7.50 per uur vir die minimum loon, terwyl dit in
Denver $5 per uur is.
Die STAR program is so gewild, dat die ouers al die vorige aand daar voor die deur gaan uitkampeer om ‘n plekkie in die program te kry. Die kantoor het die oggend 8 uur oopgemaak sodat ons kan registreer. Wel, ek het sleg geslaap daardie nag, en by 4 uur die oggend is ek wakker. Ek besluit toe om klaar te maak en in die tou te gaan wag. Wel, ek is net so voor 5 uur die oggend daar, en was daar al ‘n tou gewees! Ons kiddies was nommer 78 en 79, dus was daar soveel ouers voor my in die tou gewees. Gelukkig het ons darem nog ‘n plekkie gekry, want toe ons daar weg is, was die tou nog vreeslik lank gewees.
Ons het ook besluit om lidmate te word van die Presbyteriaanse Kerk hier in Loomis. Die kerk is so 10 minute van ons huis af. Ons is baie gelukkig in hierdie gemeente. Om lidmate te word, moes ons ‘n kursus voltooi en ons het dit ook gedoen. Daar was so 13 mense wat aangeneem is, en ons het in 2 groepe van 7 verdeel. Ons hou nou elke Sondagaand bybelstudie by iemand se huis. Dit is regtig lekker en dit beteken baie vir ons ook. Ons kerk se web site is: http://www.shepherdpres.org. Daar is ‘n mooi foto van die kerk self.
Vandat ek nou minder ure werk, het ons die seuns ingeskryf vir karate lesse. Dit is so “cute”, as hulle in hulle karate pakke karate doen. Die program werk so dat hulle elke paar weke ge-evalueer word en dan kry hulle ‘n “swart tip” op hulle wit belt. Dit is swart tape wat hulle op die wit belde plak. Na die swart tip, kry hulle ‘n rooi tip, en dan as hulle goed genoeg is, dan word hulle “ge-promote” na ‘n goue belt. Wel, die seuns is baie opgewonde oor die storie, want Vrydag 1 Junie gaan hulle hulle goue belde kry.
Hier is ‘n foto
van Wiekus waar hy sy swart tip kry.

Op die regterkantste
foto, is Wiekus en Christo saam met die hele klas. Indien iemand belangstel om na die web site
te kyk van die karate, hier is dit:
Dit is regit ‘n goeie
program, en dit leer die kinders ook onder andere selfdissipline.
Ah ha, voor ek vergeet, ons het in
April sommer ‘n groot klomp hael gekry.
Dit was vir ons te snaaks, want sover ek kan onthou het ons nog nie hael
hier in Amerika gehad nie, maar wel sneeu.
Nie dat dit sneeu hier by ons nie!
Die winter is nogal nie te koud hier nie, maar dit reën baie. Ons kry nie sneeu hier waar ons nou bly
nie. Hier is ‘n foto van die hael wat
ons gekry het.
En nou word dit sommer
lekker warm hier by ons. Die somer is so gemiddeld 30 – 35 grade
Celsuis. Ons swem ook baie by die
gymnasium. Wiekus is soos ‘n vissie in
die water, hy swem vreeslik lekker en swem ook graag onderwater. Wel, Christo het ook so 2 weke terug ‘n
mylpaal behaal. Hy het geleer om sy asem
op te hou, en net daarna het hy ook begin onder water swem. Ons het hom so ‘n week kans gegee, toe vra hy
ook vir swembrille. Dit is eintlik vir
my wonderlik om te sien hoe die kinders ontwikkel. Elke keer wat ons gaan swem, swem hy langer
onder water. Dit raak nou groot
pret. As Ouma en Oupa kom kuier, gaan
hulle ook swemlesse doen.
Die STAR program by die
skool het elke jaar ‘n jaareind funksie.
Die kinders hou dan opvoerings vir die ouers. Dit is regtig die hoogtepunt van die jaar en
die kinders sien altyd baie uit daarna.
Hierdie jaar is dit op die 18de Mei gehou en hulle tema was die “Jungle
Extravaganza”. Christo se klas het
gedans saam met die “Beach boys” se liedjies en Wiekus s’n kan ek nie onthou
nie. Dit was sommer baie oulik gewees.


Mens kan sien hoe die
kinders konsentreer om al die dans passies te doen. Een van die onderwyseresse het agter in die
saal gestaan met ‘n lig op haar, dan het die kinders haar nagevolg. Hulle kon nie die res van die gehoor sien nie,
want dit was donker. Wiekus se foto’s
het almal ge-blurr, maar hier is een van sy foto’s ook.
Hier is so 2 foto’s van
die karnaval. Die kinders kon speletjies
speel en pryse wen.



Ons het weer boerewors
gemaak. Hierdie keer het ek en Neels
dit alleen gedoen…..DIT WAS BAIE WERK!
Ons het ‘n hele Saterdag oggend daaraan afgestaan. Ons eet darem baie lekker aan die wors, en
waardeer dit sommer baie. Ek sit die foto
van Neels in, hy lyk beter as ek so vroeg in die oggend! Wiekus was baie gewillig om te help! Christo het kom help toe ons die wors begin
stop het. Dan draai die handmeule
sommer baie makliker ook!
Moedersdag was ‘n baie
interesante dag hier by ons gewees. Dit
was ook die 13 de Mei, soos in die res van die wêreld. Wel, ek het besluit dit is tyd om ‘n bietjie
aan die huis te verander. Ons het
besluit om die spaarkamer te verf….ons begin maar by die spaarkamer, want as
dit nie so goed uitwerk nie, dan slaap daar darem nie iemand nie!
Ons het al die
Vrydagaand begin met voorbereidings en plastiek oor alles gesit sodat ons kan
verf. Ek wou net die onderste helfte van
die muur verf, maar Neels het voorgestel dat ons die boonste helfte ook verf. Wat ‘n harde werk! Ons het verf gaan koop. So ‘n room kleur vir bo (maar dit lyk darem
baie vir my na wit!) en die “sjokolade mousse” kleur onder (soos ek gesê het,
enigiets wat as sjokolade kleur beskryf
word kan net lekker…ag
mooi wees!). Ons het begin verf en verf,
en natuurlik hulp ook gehad! Ons noem
dit maar net goedkoop arbeid….. Die
kinders het ook vir ‘n uur pret gehad, en toe is dit net ek en
Neels
wat verf vir die res van die dag. Dit
het ons ‘n hele dag gevat om klaar te maak.
Die naweek
daarna het ons die kas
geverf en die kamer klaar gemaak. Hier
is die eindrusultaat:

In die proses het ons
sommer die badkamer ook bietjie mooi gemaak.
Ons het net plakpapier geplak en nie geverf nie. Neels is nou nie meer so lus vir verf nie…hy
sê hy sal dit weer volgende jaar moedersdag doen! (Hmmm, miskien kan Oupa help as hulle hier
kuier…)Die kinders se badkamer is nou ‘n vissie paradys.


Net vir die rekord, hier
is die kinders se varkhokkie…ag ekskuus, hulle kamer…. Die aap teen die muur is Wiekus se
“Rainforest” projek by die skool gewees.
Daar is nog baie ander goed ook teen die muur…en ek mag dit nie afhaal
nie!
Hier is ‘n foto van ons
eetkamer en kombuis. Ons het so ‘n
snaakse lys daar bo wat ons niks mee kan doen nie. Toe besluit ons om plante daar te sit, en dit
lyk te pragtig. Die plante is nie eg
nie, want ons sal hulle nie daar kan water gee nie. Dit is nogal hoog. Ek het die lysie skoongemaak voor ons die
plante neergesit het, maar ek het aan ‘n graad van hoogtevrees gelei!
Sjoe, al 6 bladsye. My nuus is nou eers op tot ‘n volgende keer.
Liefde
Karina & gesin!