January 3, 2003
Hallo almal,
Nou
ja, 6 maande is weer verby en nou skryf ek weer ‘n briefie. Ek skryf gereeld e-mail’s, so my briewe raak
nou minder. Ek moet nog net ons website
weer aan die gang kry, maar “Technical support” (aka. Neelsie) is bietjie
besig. Hmmmm, nuwe jaars voorneme vir
my….kry ons website reg!!!!
Hierdie Kersvakansie het ons na Washington State gegaan. Ons het ‘n totale afstand van 2550 myl (4080
km) afgelê, dit is nou soontoe en terug se pad en ook ons rondry daar. Ons het die Saterdagoggend, 22
Desember, vroeg in die pad geval en
Noord gery na Oregon. Oregon is die
staat net bo California. Ons het in
Oregon oorgeslaap en die Sondag gery tot by Wapato Point. Dit is die oord waar
ons vir 7 dae gebly het in Washington State.
Wapato Point is in die dorpie Manson.
Die oord is naby ‘n groot dam, “Lake Chelan”. Op die foto kan julle die dam in die agtergrond
sien en voor is die kinders besig om te speel.
Soos julle kan sien is hulle WARM aangetrek, dit was koud daar!!!
Hierdie vakansie oor Kersfees is altyd ons “rus”
vakansie. Dan vang ons op met al die
flieks wat ons graag wou sien, maar nog nie by uitgekom het nie. Ons lees ook boeke en speel speletjies, soos
Monopoly ens. Hierdie jaar het ons nie
op Kersdag sneeu gehad soos die vorige jare nie. Die sneeu het eers op die 27ste Desember
geval en dit was wonderlik. Wiekus was
al so bekommerd dat hy nie gaan kans kry om in die sneeu te speel nie! Ons het in ‘n lekker groot woonstel
gebly. Dit kan 6 mense huisves, dus het
ons lekker baie spasie gehad. Daar was
‘n parkie reg voor ons woonstel en die kinders het graag daar gaan speel. Vir ons was dit lekker, want ons kon hulle
sommer
dophou van ons woonstel
af. Die linkerkantste foto is van ons
woonstel. Dit is die heel
regterkantste kamer op die
boonste vloer.
Die
foto van Neels en die kinders het ek geneem in die parkie waar die kinders gaan
speel het. Ek weet nie of julle dit op
die foto kan sien nie, maar Neels het sy baard laat groei hierdie vakansie….ek
dink nie dit was omdat hy nie ‘n keuse gehad het nie…..hy kon nie sy skeermes kry nie…hmmmm!!! ![]()
Ons Kersdag was baie lekker en rustig gewees. Die kinders glo nog in Kersvader…of ek dink
so, en hulle was baie verlig om te sien dat hy darem geweet het waar om Wiekus
en Christo te kry. Hulle het baie pret gehad met hulle geskenke
oopmaak. Hulle was natuurlik baie vroeg
wakker gewees!
Ek het hierdie jaar ‘n ham gemaak met
aartappels en groente. Ons het ook die
lekkerste “Appel Cider” gedrink. Dit
proe nes Appeltizer…ek kan nie glo dit
het my 6 jaar gevat om dit te proe nie! Washington is natuurlik bekend vir sy appel
produksie. Waar ons ry het ons net appel
bome gesien, dit is ongelooflik. Die
bome lyk almal dieselfde! Daar was nog
appels aan van die bome, en ons het rooi, groen en geel appels gesien. Ek dink die oestyd was in die herfs
gewees. Die foto regs
wys die appelbome…as julle dit kan sien.
Die foto is geneem net nadat dit so gesneeu het. Ons het ook van die appel geproe en dit was
heerlik.

Die 26ste Desember net na Kersfees, het ons besluit om na
Seattle toe te ry. Dit was so 180 myl
van ons vakansieoord af. Ons was so
gelukkig gewees, want die dag wat ons gekies het was ‘n mooi sonskyn dag,
sonder enige sneeu. Ons het die oggend
vroeg gery en ons is so 11 uur die oggend by die Space Needle gewees. Ons het opgegaan in die Space Needle en kon
Seattle van daar bo af bekyk. Ons het
die linkerkantste foto ongelukkig geneem toe ons weer gery het, en toe het dit
begin toetrek en die son was ook op die verkeerde plek
gewees. Ek het nog ‘n
foto ingesit aan die linkerkant van die Space Needle, dit lyk net so bietjie
klein, want ek moes die foto kleiner maak.
Wel, daarna het ons gaan middagete eet en toe die kinders gevat na die
“Children’s museum”. Hulle het dit baie
geniet! Hier is ‘n foto van hulle in ‘n
Griekse tempel.
Daar
was baie dinge om te doen. Daar was ‘n pretpark naby, en die kinders wou graag
op die bumper karre ry. Christo was
net-net te kort en hy kon nie daarop ry nie, toe ry Neels en Wiekus maar. Na die tyd het ons met die Seattle Center
Monorail gery tot in die middestad van Seatlle en bietjie daar rondgeloop. Omdat ons tyd beperk was kon ons nie so baie
doen as wat ons graag wou nie!
Omdat Seattle ‘n groot stad is, het ons ook beplan om na die
Akwarium te gaan. Wiekus is altyd so
lief om vir die visse te gaan kyk.
Gelukkig was dit nie te vêr nie.
Ons het so 3 uur die middag ingegegaan en 5 uur het die plek
toegemaak. Die akwarium was baie groot,
met baie visse…baie eksotiese visse ook.
Ons was darem nou al by ‘n hele paar akwariums gewees hier in Amerika en
ek was nog nooit teleurgesteld nie! Ons
het veral die otters baie geniet, daar was 2 wat ons baie laat lag het. Die ene het flooie gekrap vir Afrika, of so
het dit gelyk, maar ek het nog nooit so iets gesien nie. Nie eens ‘n bobejaan kan so lekker flooie
krap soos die otters nie!!! Die
regterkantste is van Christo by ‘n “giant octopus”. Hulle het een “giant octopus” gehad, wat in
Oktober gebore is. Dit was Desember toe
ons daar was en die vis weeg toe al 30 pond, so hy groei baie vinnig! Dit was ‘n baie lekker dag en ons was die
aand 9 uur terug by die vakansie oord.


Ons het lekker laat geslaap die volgende
oggend (27 Desember), en toe ons wakker word, is die wêreld wit van die
sneeu. Die kinders het nog nooit in
hulle lewe so vinnig ontbyt geëet nie!
Hulle het hulle sneeu klere aangetrek en gaan speel in die sneeu. Hulle het self gelê in die sneeu…dit moes
koud gewees het! Ek moet sê, die sneeu
was lieflik sag gewees. Vir julle wat
wonder hoekom sneeu lieflik kan wees, daar is ‘n verskil in die sneeu van plek
tot plek. Sommige plekke se sneeu is
baie hard en koud en ysig. Hier was die
sneeu lekker sag om in te speel en ook om ‘n sneeuman mee te bou. As julle terugblaai na bladsy 2, sal julle
dieselfde rondomtalie sien sonder sneeu!
Regs is Neels en die kinders en die sneeuman wat ons gebou het….ok, so
ons is nie kunstenaars nie!!! Die
Saterdag 28 Desember het ons die dorpie Leavenworth besoek. Dit is ‘n dorpie
met ‘n Bavariese tema. Daar was al die
name van die winkels en hotelle in Duits en Engels gewees. Hulle sê die dorpie het ‘n Kerstema die hele
jaar deur. Ons het Sondag die lang pad
terug huistoe gery. Ons het Sondag weer
oorgeslaap in Oregon en Maandag het ons moeg en veilig by die huis gekom.