July 27, 2003
Hallo,
Vandag wil ek nou
eers vertel van ons vakansie by LegoLand, Seaworld en Wild Animal Kingdom Park
in San Diego. Ek kan nie glo dat so baie tyd al verloop het vandat ons
daar was nie! Dit was ‘n baie lekker
vakansie gewees vir ons almal.

Ons
het die 15de Junie gery na San Diego en die 22ste Junie terug gekom. In die week wat ons soontoe en terug gery
het, het ons 1100 myl afgelê. Ons het
ook by Johannesburg gestop…dit is ‘n baie klein dorpie op pad na San
Diego. En net sodat julle ons almal glo,
hier is ‘n foto van Neels en die kinders by die padteken. Die populasie is 300 en die hoogte bo see
spieël is 3,510 voet.
Nou ja, ons het by
die Welk Oord gebly in ‘n 2 slaapkamer eenheid.
Met die jare het ek nou altyd vertel van al die RCI oorde waar ons bly,
en ons was nie teleurgesteld nie. Die
oord was pragtig en goed versorg. Die
eenheid waar ons gebly het was netjies skoon en ons was naby ‘n verhitte
swembad en Jacuzzi. Ons het elke dag
gaan swem in die lekker warm swembad.
Die
eerste dag het ons na Lego Land gegaan.
Ons het ‘n tweedag kaartjie gehad vir hierdie park. Die eerste dag het ons die plek gaan verken
en soveel gedoen as wat ons kon, die tweede dag wat ons teruggegaan het, het
ons net al die lekker dinge gedoen.
Alles by Lego Land is gebou van lego’s; dit is ongelooflik. Ons het eers ‘n bootrit gedoen met die “Coast
Cruise” en oorals langs die kante was daar lego geboue, brue, olifante en
figure. Hulle plak die Legos aanmekaar
vas, sodat dit nie losgaan nie. Daar is
letterlik miljoene & miljoene Legos.
Die foto wat ek insit is van die bootrit en die seediere op die foto is
alles van legos gebou.
Ons het ‘n kaart
van die plek gehad en oorals langs die pad kan mens op roller coasters ry. Die park is ook meer gerig op kleiner kinders
van so 3 – 6 jaar oud. Die beste vir my
was die Miniland Models. Dit sê dat daar
16 miljoen lego blokkies aanmekaar geplak is.
Dit het ‘n span modelbouers 3 jaar geneem om alles te bou. Dit sal een persoon 67 jaar neem om dit te
bou. Hulle sê ook dat dit met dieselfde lego’s gebou
word as wat mens in die winkels kry.
Selfs die figure in die plek was alles met lego’s gebou, die mense,
honde ens. Die plek is ook vol bonsai
boompies. Nadat ons die miniland deurgestap
het, het ons gaan ry op ‘n paar rollercoasters…of soortvan. Daar was ook ‘n “Driving School” vir kinders
8 – 12 jaar en Wiekus en Christo het dit baie geniet! Die area waar hulle gery het het regte
robotte en stop strate gehad. Neels het
‘n foto van die twee geneem toe hulle toevallig saam was. Dit het darem vir my so lekker gelyk om die
karretjies te bestuur, maar helaas, ouers mag nie ry nie.… bummer.

Daarna
is ons na die “Sky Patrol” rit. Dit is
‘n helicopter rit vir kinders en ouers.
Nogal lekker gewees, die kinders kon self kies om op of af te gaan. Ek en Christo is saam en Neels het saam met
Wiekus gery. Nadat ons daar klaar was
het ons met die “Skipper School” boot gaan ry.
Dit kon die kinders ook self bestuur, en oorals langs die kante was daar
weereens lego mannetjies en diere ens.
Die kinders het dit geniet om die bote self te beheer en die petrol te
trap!


Sjoe,
twee bladsye van Lego Land, nou moet ek vertel van die volgende twee parke waar
ons was. Dinsdag 17 Junie is ons na die
“San Diego Wild Animal Park”. Dit was ‘n
lekker warm sonskyndag en ek en die kiddies was reg vir baie wilde diere… met
ons sonbrille en kameras! Ons het eers
op die “Simba Station Railway” trein gery om die plek in geheel te sien. En heelaas, ons het ‘n deel van Suid-Afrika
gesien. Neels het foto’s geneem daarvan,
want die palmbome was vir ons snaaks.
Miskien hou die SA diere van palmbome??!
Die diere is ook so vêr op die foto’s, dat dit nie so goed in die brief
lyk nie, daarom sit ek sommer ‘n algemene foto in van die plek. Ons het baie renosters en hulle babatjies
gesien. Vreeslik cute! Ek dink ons het op ‘n goeie tyd gegaan, want
daar was baie baba bokkies ook gewees.
Die mooiste deel van die park vir my was die “Butterfly pavilion”. Ons het in ‘n gebou ingestap en daar was net
vlinders, verskillende groottes en kleure.
Hulle vlieg oorals om jou kop en kom sit op jou hare. Ongelooflik dat hulle die vlinders so
gelukkig kan hou!
Die
“Petting kraal” was ook ‘n groot sukses, dit is waar die kinders die wilde
diere kan vryf. Altyd ‘n sukses!
Drie
keer ‘n dag was daar ook ‘n olifant skou
en ons het een bygewoon. Ongelooflik wat
hulle alles vir ‘n olifant kan leer!

Nou
ja, ek moet nou aanstap na ons laaste park en dit was Seaworld in San
Diego. Ons was in 1998 ook by ‘n
Seaworld in Florida gewees, so hierdie ene stem baie ooreen. Dit fasineer my altyd dat hulle ‘n park so
indrukwekkend kan maak. Dit was beslis
die lekkerste park om te besoek. Die
opvoerings van die diere is baie goed, daar was dofyne, walvisse, seeleeus en
honde, katte en ‘n vark wat toertjies doen.
Dan het hulle ook visse soos “Stingray’s”, dolfyne en seeleeus wat mens
kan voer. Natuurlik die lekkerste vir
my! Die kos is net baie duur wat mens
koop, maar so maak hulle geld! Een van
die oulikste opvoerings wat ons gesien het was “Fools with Tools”, seeleeus
toertjies..baie oulik. Nou ja ek moet groet….. Liefde Karina & gesin.