May 25, 2003
Hallo weer ‘n
keer,
Mei
maand het ons ‘n nuwe muur gekry, net
aan die een kant van ons huis. As julle
onthou, het ek ‘n e-mail gestuur van hoe die muur gelyk het toe dit omgeval
het. Ons bure het toe besluit om hulle hele
muur te vervang, want van hulle ander mure het ook al omgeval toe die wind so
gewaai het. Hier is ‘n foto van die
naweek voor die nuwe muur opgesit is. Ek
en Wiekus is besig om kruie te plant.
Hierdie jaar is ons groente tuin nie so groot soos laas jaar nie. Ons wil bietjie veranderinge aanbring aan ons
erf, en ek kon nie die hele area gebruik nie.
Ek het ook laas jaar te veel groente opmekaar gehad. Vandat hierdie foto geneem is, het ons
tamaties, zucchini en komkommer geplant.
Die groente groei fluks en ons het al klein tamatjies wat nog moet ryp
word.
Fluffy,
ons brak is ook vreeslik oulik. Ek moes
‘n foto of twee van hom insit. Hy is
regtig cute. Al ding is net, dat hy vir
alles blaf, en ek bedoel ALLES! As hier
‘n vliegtuig oorvlieg, dan jaag hy dit en blaf totdat hy die vliegtuig nie meer
kan sien nie. Dit is eintlik vreeslik
snaaks. Hy blaf ook vir al die voels in
die omgewing, veral as hier eende oorvlieg, dan gaan hy darem lekker
tekere. Soos julle op die foto kan
sien, kyk Fluffy boontoe, natuurlik vir daai voels vir wie hy moet blaf. Op die foto op Bladsy 1 kan julle ook ‘n stuk
van die nuwe muur sien wat ingesit is.
Soos,
ek al genoem het, neem Fluffy sy waghond taak baie ernstig op. So ‘n rukkie terug kry ek hom op my tafel
waar hy waghond werk doen. Hy spring
eers op die stoel en dan op my tafel, en dan kyk hy by die venster uit. Mens kan die straat voor ons huis sien van my
tafel af. In elk geval so af en toe
spring hy net tot op die stoel en kyk by die venster uit en blaf. Dit is dan wanneer ek sommer sy nekkie wil
omdraai as hy so raas. Hy het nogal ‘n
irriterende blaffie.

Soos
ek ook in ‘n e-mail genoem het, het Wiekus se klas ‘n “Western” dag by die
skool gehad. Die graad 3’s het almal
daaraan deelgeneem. Dit was baie lekker
gewees en die kinders het dit ook baie geniet.
Wiekus is die oggend skool toe met sy cowboy hoed en bandana. Al die kinders het te oulik gelyk. Teen 11 uur die oggend het die kinders
aktiwiteite begin doen, soos bandana’s maak, hulle het ook leer “calf roping”
(tou gooi oor ‘n koei se kop), soos die cowboys doen. Middagete was ook ‘n regte cowboy ete
gewees. Op die volgende bladsy is Wiekus
met sy twee beste maatjies by die skool, Clay en Scott (regs). Hulle is soos die drie musketeers, altyd
bymekaar. Hulle is al sulke goeie maatjies van graad 2
af en hulle gaan nou saam na graad 4 toe.
Die foto onder is van die program waaraan Wiekus deelgeneem het die
aand. Dit was sommer baie cute
gewees. Dit was ‘n regte “Western”
dag
gewees vir Wiekus.
Ek
kan nie glo die skool jaar is vir ons verby nie. Oor 2 weke begin die lekker lang somer
vakansie en ons sien baie uit daarna.
Nou
eers vertel van ons Moedersdag trippie na Dixon. Dit is ‘n klein dorpie, so ‘n uur se ry van ons huis af. Ons het die middag daar gaan piekniek hou en
na ‘n skou toe gegaan wat daar aan die gang was. Dit laat mens altyd verlang na SA, want dit
is so ‘n regte plaasgemeenskap. Die
kinders het ook al die beeste, varke, skape ens. bekyk. Die plaas-implemente het ‘n groot impak
gemaak, want hulle wil net daarop speel.
Hier is hulle op ‘n New Holland laaigraaf. Die skou is natuurlik baie groot gewees en
daar was allerhande aktiwiteite om te doen.
Ek dink die gewildste was die “Petting Zoo” gewees, want daar kan die
kinders die diere “smooch” as hulle wil.

Daar
was ‘n klomp klein bokkies gewees wat te oulik gelyk het met hulle ronde
pensies, en ook ‘n groot lama. Hier is
Wiekus en Christo besig om ‘n bokkie te vryf.
Die bokkie steur hom nie veel aan die kinders nie, hy stel meer belang
in eet! Daar was ‘n plek waar die
kinders op 4x4 bakkies kan ry. Dit is
nou “manual power” bakkies, dit gebruik trapkrag. Neels moes Wiekus help stoot, want sy kar wou
nie wegkom nie……..
Die
snaakste vir ons was die vragmotor met ‘n air conditioning unit vir varke. Neels moes ‘n foto neem daarvan, want waar
kry jy nou varke wat in ‘n verkoelde eenheid bly??!? Daar was ook ‘n wedrenbaan waar die varke
resies hardloop en ook swem. Ek moet sê
dit was soooooo snaaks! Nou het ek nog
net een bladsy oor om te vertel van ons besoek aan Point Reyes. Dit is naby San Francisco en so ‘n uur en ‘n
half se ry van ons huis af. Noudat ek
die foto’s gaan soek het, sien ek dat ons in April daar was, so dis ‘n maand
gelede wat ons daar was. Die brief is
dus nie in kronologiese volgorde nie!


Ons
het by ‘n strand gestop voor ons by Pt. Reyes uitgekom het. Die kinders was skoon uit hulle kassies van
blydskap. Hulle het gehardloop en in die
see gaan speel! Tot my groot skok
natuurlik….ek het vergeet om vir hulle ekstra klere in te pak. Hulle het dit so geniet en ek kon nie dit vir
hulle bederf nie. Natuurlik was hulle
sopnat toe hulle daar klaar is. Omdat
dit nog koud was, het hulle langbroeke aangehad. Dus kan julle julle voorstel hoe die twee
gelyk het toe ons verder ry. Ons het by
die besoekersentrum aangekom by Pt. Reyes en daar gaan piekniek hou. Na ons piekniek het ons lekker gaan stap, dit
was ‘n baie mooi en alles is so mooi en groen!
Daar was twee staproetes wat ons
gaan stap het. Dit was net ‘n lekker rustige dag en ons het dit baie
geniet.
My volgende brief sal wees as ons terugkom van ons vakansie in
San Diego (15-22 Junie), waar ons Seaworld en Legoland gaan besoek. Tot
later! Baie liefde, Karina